Showing posts with label afrikaans. Show all posts
Showing posts with label afrikaans. Show all posts

08 December 2010

Kindle

My nuwe Kindle is gister afgelewer en dit oorskry my stoutste verwagtinge.

Uiteindelik! 'n Elektroniese apparaat wat werklik iets werd is.

14 November 2010

Sondagoggend

Dis Sondagoggend.

Ronde druppels biggel uit die geute
en die oggend is koel na ‘n nag van reën.
By die stroom roep paddas fluitkeels.

Almal rus.

Die oggend is gehul in ‘n heilige groen skemerte
- ‘n onverwagte verlossing -
totdat die moeras van somer ons opnuut bedwelm.

03 October 2010

Ek wil 'n huis bou

Ek wil 'n huis bou,
onder teen die hang
van Kilimanjaro,
met 'n breë stoep
en houtvloere
en 'n hoë plafon.
En 'n tuin uitlê,
met beddings en 'n grasperk
en 'n koelteboom
- vir skadu teen die son -
wat vlekke silwer lig deur laat
drup tot binne-in my ingewande
- dat ek heel kan word.

Wentelwoorde

ek pos my woorde in 'n brief
in 'n spierwit papierkoevert
sonder 'n seël
sonder 'n geadresseerde
sonder 'n afsender
sonder 'n lugposseël
ek lanseer my brief vanaf my lessenaar
tot hoog, hoog bó in die atmosfeer
laat hy val waar hy wil
laat my woorde val waar hulle wil
partykeer land my woorde in 'n wentelbaan
wentelwoorde
wat iewers
dalk
tot nut kan wees

21 May 2010

Omstandighede

Omstandighede bepaal nie wie jy is nie; omstandighede ontbloot wie jy is.

19 April 2010

Valskermsprong

in 'n duisend oomblikke
op 'n mespunt kantel ons
oplaas – 'n warboel sonne
flits, wolkmassas en blou –
tuimelend, gehoorsaam en
aangetrokke, maar
gekussing, geharnas,
gegespe en tevrede –
na benede

26 February 2010

Afrikaanse deeltekens, aksente en kappies

So verstel 'n mens jou rekenaar in Windows 7 om diakritiese skryftekens soos deeltekens, aksente en kappies te tik:

Stap 1:



Kies
Control Panel op jou rekenaar se opsielys ...

Stap 2:



Kies
Region and Language ...

Stap 3:



Kies
Change keyboards ...

Stap 4:



Kies
Add ...

Stap 5:



Rol boontoe totdat
Afrikaans (South Africa) sigbaar is en kies Show More ...

Stap 6:



Kies
United States-International ...

Stap 7:



'n Mens kan ruil tussen die Afrikaanse of gewone sleutelbord deur 'n sleutelkombinasie te druk. Kies
Advanced Key Settings om te sien wat die sleutelkombibasie is (by verstek is dit die linker Alt-sleutel saam met Shift), en verander dit indien nodig.

Kies daarna
Ok, totdat al die venstertjies weer toe is ...

Stap 8:



In 'n program soos
Microsoft Word, kan 'n mens sien watter sleutelbord aktief is. Hierbo kan 'n mens sien dat die Afrikaanse sleutelbord aktief is. Druk linker Alt en Shift om te ruil tussen die Afrikaanse of gewone sleutelbord. Dit sal in ander programme ook werk, maar 'n mens kan nie noodwendig altyd sien watter sleutelbord aktief is nie ...

Stap 9:



Om die Afrikaans letters te tik, tik 'n mens eers 'n aksent sleutel en volg dit dan op met die letter wat geaksentueer moet word. Die aksent sleutels wat meestal in Afrikaans gebruik word is ', ", ^, en `. So, om byvoorbeeld 'n ë te tik, tik eers " (niks sal op die skerm verskyn nie) en tik dan e. As dit nie werk nie, druk die sleutelkombinasie wat die Afrikaanse sleutelbord aktiveer (linker-
Alt en Shift).

Nog voorbeelde: tik ^ en dan e om ê te kry; tik ' gevolg deur o om ó te kry, ensovoorts. 'n Mens kan ander vreemde letters ook skep, bv die Franse ç deur eers ' en dan c te druk, of die Spaanse ñ deur ~ gevolg deur n te druk.

As die Afrikaanse sleutelbord aktief is, en 'n mens wil 'n gewone aksent letter skep, druk bloot die aksent sleutel gevolg deur 'n spasie.

18 February 2010

Parys



Ons dwaal deur die klam stad;
kaal geraamtes mymer
grinnikend in rye
en fluister heimlik:
kyk my hart, kyk my hart ...

07 February 2010

Spookasem

In Afrikaans is dit spookasem;
in Engels is dit candy floss;
in Amerikaans is dit cotton candy;
en in Frans is dit barbe á papa.

Vir my is die Afrikaans en die Frans (Pappa se baard) die mooiste.

29 January 2010

Springgety

skuimend stroom die water
óp en óór die strand en
beur traag maar onverpoosd,
kloppend, teen die klam rots
en kaaie en hellings

die mantel van strand en
sand krimp sonder waan of
agterdog of pyn of
wete, gelate, en
bruis onder die kombers


23 January 2010

Die Witsand se knorders


As die wind uit die suide waai, kry die vis 'n pyn in sy bek! - so sê die ou vissermanne op die Witsand.

Daarenteen, as die wind uit die suid-ooste waai, soos op díé dag, kan jy só 'n allemintige knorder uit die water trek.


29 December 2009

Simba



My hond is blond en bonkig en braaf.
Sy naam is Simba.
Deur sy are vloei bloed wat gesout is met die jag van mammoete en weerwolwe (so glo hy).
Maar instede van bloeddorstige veldslae en opwindende jagtogte, gee ek, sy baas, hom Epol.
En 'n stappie om die blok om sy gebied af te merk.


24 December 2009

Die mooiste reël in die Franse digkuns?

Quand vous serrez bien vieille, au soir, à la chandelle ...

Só skryf Ronsard vir sy Hélène in 1587. Sy boodskap is as volg:

Wanneer jy oud geword het, saans by die kers aan die spinwiel, dán sal jy onthou dat Ronsard jou bemin het, toe jy nog jonk en mooi was. Pluk vandág die roos van die lewe ...

Meer as 400 jaar later is sy gedig, en die boodskap daarvan, nog net so mooi.

22 December 2009

Die hond wat die man sien ...

'n Paar weke gelede luister ek in my motor na my Franse lesse op iPod. Dis nou die BBC se French Experience wat Unisa gebruik as onderwysmateriaal vir eerstejaar Frans.

In die les word die verskil in gebruik tussen que en qui verduidelik - onderskeidelik wat en wie - afhangende daarvan of die woord na die onderwerp of voorwerp van die sin verwys. Die reël in Frans is: wanneer dit na die voorwerp (objet) verwys, gebruik que, en wanneer dit na die onderwerp (sujet) verwys, gebruik qui.

So, byvoorbeeld:

Le chien qui voit l'homme, teenoor, L'homme que le chien voit.

En dis toe ek die sinne vir myself in Afrikaans vertaal dat ek agterkom dat hierdie tipe konstruksie moeilik is om ondubbelsinnig in Afrikaans uit te druk.

Hier is die eerste sinnetjie weer, eers in Frans, dan Engels, en dan Afrikaans:

Le chien qui voit l'homme.
The dog that sees the man.
Die hond wat die man sien.

Die dubbelsinningheid van die Afrikaanse sin is onmiddellik opmerklik: dit kan beide beteken dat dit die hond is wat die man sien, of dat dit die man is wat die hond sien. Die dubbelsinnigheid bestaan egter glad nie in Frans of Engels nie. Dit is agv woordorde: die werkwoord is in Engels en Frans vóór die voorwerp, maar in Afrikaans ná die voorwerp.

In Engels, en Frans, skuif die werkwoord ná die voorwerp as ons die betekenis wil verander:

The dog that the man sees, teenoor, The dog that sees the man.
Le chien que l'homme voit, teenoor, Le chien qui voit l'homme.

In die Franse sinne kom que teenoor qui, wat die doel van my Franse les was, ook in werking.

Ek het ook besef dat ons in Afrikaans moontlik 'n komma en aksent sou kon gebruik om in gesproke taal die betekenis van die sin duideliker te maak.

Dus:

Die hond wat die man sien. (The dog that sees the man)
Die hond, wat die man síén. (The dog that is seen by the man)

Natuurlik sal sinsverband en konteks die meeste van die tyd enige verwarring uit die weg ruim, maar dit was net vir my opmerklik dat so 'n eenvoudige sinnetjie wat in Frans en Engels geheel en al duidelik is, in Afrikaans twee betekenisse kan hê.

My Duits is nie meer wat dit was nie, maar ek is seker die dubbelsinnigheid bestaan ook nie daar nie:

Der Hund der sieht den Mann.
Der Hund den der Mann sieht. (Hier help die Duitse akkusativ ook met betekenis)

Interessant.