03 January 2011

Buffalo buffalo Buffalo buffalo buffalo buffalo Buffalo buffalo

Ek het op hierdie interessante Engelse sin afgekom op Wikipedia:

Buffalo buffalo Buffalo buffalo buffalo buffalo Buffalo buffalo.

Gramaties is dit 'n korrekte Engelse sin, alhoewel ietwat lomp en dubbelsinnig. Bestaan daar 'n soortgelyke sin in Afrikaans?

08 December 2010

Kindle

My nuwe Kindle is gister afgelewer en dit oorskry my stoutste verwagtinge.

Uiteindelik! 'n Elektroniese apparaat wat werklik iets werd is.

14 November 2010

Sondagoggend

Dis Sondagoggend.

Ronde druppels biggel uit die geute
en die oggend is koel na ‘n nag van reën.
By die stroom roep paddas fluitkeels.

Almal rus.

Die oggend is gehul in ‘n heilige groen skemerte
- ‘n onverwagte verlossing -
totdat die moeras van somer ons opnuut bedwelm.

03 October 2010

Ek wil 'n huis bou

Ek wil 'n huis bou,
onder teen die hang
van Kilimanjaro,
met 'n breë stoep
en houtvloere
en 'n hoë plafon.
En 'n tuin uitlê,
met beddings en 'n grasperk
en 'n koelteboom
- vir skadu teen die son -
wat vlekke silwer lig deur laat
drup tot binne-in my ingewande
- dat ek heel kan word.

Wentelwoorde

ek pos my woorde in 'n brief
in 'n spierwit papierkoevert
sonder 'n seël
sonder 'n geadresseerde
sonder 'n afsender
sonder 'n lugposseël
ek lanseer my brief vanaf my lessenaar
tot hoog, hoog bó in die atmosfeer
laat hy val waar hy wil
laat my woorde val waar hulle wil
partykeer land my woorde in 'n wentelbaan
wentelwoorde
wat iewers
dalk
tot nut kan wees

21 May 2010

Omstandighede

Omstandighede bepaal nie wie jy is nie; omstandighede ontbloot wie jy is.

19 April 2010

Valskermsprong

in 'n duisend oomblikke
op 'n mespunt kantel ons
oplaas – 'n warboel sonne
flits, wolkmassas en blou –
tuimelend, gehoorsaam en
aangetrokke, maar
gekussing, geharnas,
gegespe en tevrede –
na benede