29 December 2009

Simba



My hond is blond en bonkig en braaf.
Sy naam is Simba.
Deur sy are vloei bloed wat gesout is met die jag van mammoete en weerwolwe (so glo hy).
Maar instede van bloeddorstige veldslae en opwindende jagtogte, gee ek, sy baas, hom Epol.
En 'n stappie om die blok om sy gebied af te merk.


24 December 2009

Die mooiste reël in die Franse digkuns?

Quand vous serrez bien vieille, au soir, à la chandelle ...

Só skryf Ronsard vir sy Hélène in 1587. Sy boodskap is as volg:

Wanneer jy oud geword het, saans by die kers aan die spinwiel, dán sal jy onthou dat Ronsard jou bemin het, toe jy nog jonk en mooi was. Pluk vandág die roos van die lewe ...

Meer as 400 jaar later is sy gedig, en die boodskap daarvan, nog net so mooi.

22 December 2009

Die hond wat die man sien ...

'n Paar weke gelede luister ek in my motor na my Franse lesse op iPod. Dis nou die BBC se French Experience wat Unisa gebruik as onderwysmateriaal vir eerstejaar Frans.

In die les word die verskil in gebruik tussen que en qui verduidelik - onderskeidelik wat en wie - afhangende daarvan of die woord na die onderwerp of voorwerp van die sin verwys. Die reël in Frans is: wanneer dit na die voorwerp (objet) verwys, gebruik que, en wanneer dit na die onderwerp (sujet) verwys, gebruik qui.

So, byvoorbeeld:

Le chien qui voit l'homme, teenoor, L'homme que le chien voit.

En dis toe ek die sinne vir myself in Afrikaans vertaal dat ek agterkom dat hierdie tipe konstruksie moeilik is om ondubbelsinnig in Afrikaans uit te druk.

Hier is die eerste sinnetjie weer, eers in Frans, dan Engels, en dan Afrikaans:

Le chien qui voit l'homme.
The dog that sees the man.
Die hond wat die man sien.

Die dubbelsinningheid van die Afrikaanse sin is onmiddellik opmerklik: dit kan beide beteken dat dit die hond is wat die man sien, of dat dit die man is wat die hond sien. Die dubbelsinnigheid bestaan egter glad nie in Frans of Engels nie. Dit is agv woordorde: die werkwoord is in Engels en Frans vóór die voorwerp, maar in Afrikaans ná die voorwerp.

In Engels, en Frans, skuif die werkwoord ná die voorwerp as ons die betekenis wil verander:

The dog that the man sees, teenoor, The dog that sees the man.
Le chien que l'homme voit, teenoor, Le chien qui voit l'homme.

In die Franse sinne kom que teenoor qui, wat die doel van my Franse les was, ook in werking.

Ek het ook besef dat ons in Afrikaans moontlik 'n komma en aksent sou kon gebruik om in gesproke taal die betekenis van die sin duideliker te maak.

Dus:

Die hond wat die man sien. (The dog that sees the man)
Die hond, wat die man síén. (The dog that is seen by the man)

Natuurlik sal sinsverband en konteks die meeste van die tyd enige verwarring uit die weg ruim, maar dit was net vir my opmerklik dat so 'n eenvoudige sinnetjie wat in Frans en Engels geheel en al duidelik is, in Afrikaans twee betekenisse kan hê.

My Duits is nie meer wat dit was nie, maar ek is seker die dubbelsinnigheid bestaan ook nie daar nie:

Der Hund der sieht den Mann.
Der Hund den der Mann sieht. (Hier help die Duitse akkusativ ook met betekenis)

Interessant.